Reint Dykema vanaf Solidariteit Blog
Op 9 Maart 2010 is meer as 136 000 misdaad briewe aan president Zuma oorhandig. Kyk Stube video. Toe die veldtog gestop het, het die briewe trouens op 141 222 gestaan. Die eerste keer is 23 000 briewe vir die president geneem en drie weke daarna het hy meer as 100 000 briewe ekstra gekry. Dankie aan almal wat deelgeneem het aan die krag van die kollektief. Groot steun is van Faceboek groepe en vriende daarop ontvang. Sterkte vir jul onderskeie pogings. Misdaad het ongelukkig nie gister opgehou nie. Daar is net weer kennis gedra van die probleem en die intensiteit daarvan in Suid-Afrika.
Vir my was daar baie spesiale en emosionele oomblikke die afgelope maand. Oor mobilisasie is lesse geleer wat gedeel gaan word.
Lees verder en bekyk die foto’s op Solidariteit Blog…
Kyk ook na die dokumentêr, Die stories van Suid-Afrikaners wat die president nie wou hoor nie.
Geagte mnr. Zuma
2% aan misdaad is nie genoeg nie
Ons het met groot verwagting uitgesien na u staatsrede. Een van die redes was om te hoor wat u sê oor misdaad. Misdaad ruk die land uitmekaar. Elke dag lees ons op die voorblaaie van koerante van nog ‘n moord. Ons lees nie eers meer van gewelddadige aanvalle waar daar nie vermoor of verkrag word nie, want dit is nie meer nuus nie. Sodra iets nie meer nuus is nie, het dit die norm geword. Ons weier om te aanvaar dat aanvalle op ons mense die norm word.
Misdaad is vir ons die nommer een probleem in die land, want misdaad maak dood, misdaad verkrag en misdaad martel. Misdaad maak mense bevrees en misdaad laat mense vlug. Misdaad maak dat algemene en beleggersvertroue in die land verloor word. Misdaad bedreig die sukses van die Wêreldbeker-sokkertoernooi en misdaad maak toeriste bang vir Suid-Afrika.
Die regering se prioriteite was in u toespraak uitgespel. Slegs 2% van u toespraak, oftewel 115 van u 4 411 woorde, was gewy aan misdaad. Vir die sowat ‘n uur wat u gepraat het, het u een minuut aan misdaad spandeer.
U het meer tyd – 132 – woorde, spandeer om eregaste te verwelkom as om te sê wat u aan misdaad gaan doen. Daar is selfs meer tyd aan u hotline gewy as aan die kwessie van wat aan misdaad gedoen gaan word. Die Wêreldbeker-sokkertoernooi het ook meer tyd as misdaad gekry.
U het duidelike uitkomste vir die regering se prioriteitsareas uitgespel, maar geen duidelike uitkomste vir misdaad gegee nie.
Van al die prioriteitsareas het misdaad die minste aandag gekry. Die ekonomie en werkskepping het 6,5 maal meer aandag gekry. Die verbetering van dienslewering het 6 maal meer aandag gekry. Onderwys en opleiding het meer as 3 maal soveel aandag gekry en gesondheid amper dubbel soveel aandag. Misdaadbestryding kan nie wag totdat hierdie prioriteite se teikens êrens in die verre toekoms bereik word nie.
As burgers van Suid-Afrika lewer ons graag repliek op u staatsrede: 2% aan misdaad is nie goed genoeg nie. Ons verwag dat u en die regering meer aan misdaad in Suid-Afrika sal doen. Ons verwag duidelike uitkomste.
Bekommerde burger van Suid-Afrika
